Getuienisbediening

en JULLE sal  MY GETUIES wees in  Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samria en tot in die UITHOEKE VAN DIE WêRELD

Jerusalem = Cradock

ACVV

Die ACVV het op 1 Septemer 1904 in Kaapstad onder ‘n groep vroue ontstaan. Sedertdien het die ACVV gegroei tot ‘n instansie wat vandag maatskaplike dienste, kinder versorging en die versorging van bejaardes lewer. In Cradock is die ACVV die hande en voete van Jesus se bediening en is daar baie personeel wat hierdie instansie dryf. Die ACVV bestuur die kleuterskool Hasie Kalbasie, hulle is ook aan die stuur by die Elizabeth Jordaan Tehuis en in 2020 het die eerste kinders in Huis Betesda ingetrek, ‘n huis van veiligheid vir kinders. http://www.acvv.org.za/

Vukasebenze skuiling

Die Vukasebenze Skuiling gee drie maal per week (Maandae, Woensdae en Vrydae) vir tussen 60 en 80 volwassenes kos, en oor vakansies vir ±40 kinders. Tydens grendeltyd en die daaropvolgende vlak 1 inperking van die Covid -19 pandemie in 2020, het die skuiling begin deur daagliks aan tussen 150 en 200 mense gekookte etes te voorsien wat na hulle huise uitgery is. Met die verslapping van inperkingsmaatreëls is daar terug gekeer na die gee van etes by die perseel. Die skuiling beskik oor hulle eie groentetuin, hulle doen naaldwerk, verkoop tweedehandse klere uit hulle klerewinkel teen spotgoedkoop pryse en het oornaggeriewe. Die kombuis bak ook brood en kan gekontak word vir spyseniering. Hierdeur word die werk van die skuiling befonds en word daar vir talle mense werk geskep. Die skuiling droom om ’n groter impak te maak op armoede verligting in Cradock en poog om meer tyd te belê in opleiding.

Huis Betesda

Huis Betesda is ‘n pleegsorg huis vir kinders spesifiek tussen die ouderdom van 12-18 jaar. Kinderhuise in ons provinsie se opname is beperk tot kinders onder die ouderdom van 12 jaar. Kinders kan wel aanbly tot op 18 jaar, maar dit gebeur slegs wanneer die kind reeds voor die ouderdom van 12 ingeneem is by ‘n kinderhuis. Daar was dus geen hulpbron waarheen kinders verwys kon word tussen die ouderdom van 12-18 in ons provinsie, sou die kind uit die ouerhuis verwyder moes word nie. Die ACVV – Cradock wat ‘n “Designated Child Protection organisation” is het hierdie behoefte geidentifiseer. Hulle het die Here vertrou en die groot stap geneem om ‘n huis te koop waar 12 kinders in pleegsorg geakkomodeer kan word.

Judea = Suid – Afrika

Egeiro Bediening

Broer Marko, saam met sy vrou Elzeth en hulle pragtige drie kinders wy hulle lewe daartoe om die evangelie van God te verkondig. Broer Marko is deel van die Egeiro bediening wat daarna strewe om die kerk van Jesus Christus toe te rus vir haar bediening onder veral die Islam beweging. Hulle droom is dat elke Christen en gemeente sal uitreik na hul moslem bure en die evangelie van Jesus se liefde sal deel met hulle en hulle sal toerus om dissipels te wees wat vir Jesus navolg en vir God dien.

Samaria = Afrika

Riaan en Saretha Terblanche—Veritas

Riaan & Saretha is in diens van Veritas Kollege.  Dié kollege se  fokus is om kerkleiers op te lei. Opleiding word binne gemeentes aangebied; die hele persoon word ontwikkel (holistiese benadering); studente word geleer hoe om die Bybel binne hulle leefwêreld te inkorporeer.  Veritas lei alle denominasies op. Riaan doen Veritas-opleiding vir kerkleiers in Mosambiek.  Hulle is ook besig om vir hulle ‘n huis daar te bou – hulle is van plan om hulleself permanent daar te vestig.

Uithoeke van die Wêreld

Martin en Petro de Lange

Martin en Petro se passie is om Moslems te bereik met hoop, en liefde soos hulle dit leer en ervaar by Jesus Christus.  Daar is 1.8 biljoen moslems oor die wêreld en alhoewel daar so baie moslems in onbereikbare dele van die wêreld woon is daar miljoene op ons voorstoep.  Ons as kerk het ‘n onbeskryflike groot taak om Christus vir elkeen van hierdie moslems in die samelewing te wees. Martin en Petro werk hoofsaaklik onder Turkse immigrante in Frankryk. https://www.martindelange.org/

Feba Radio

Feba radio saam met sy vennote produseer meer as 700 ure se uitsendings wat vanaf 128 transmitters na 146 stasies in 130 tale reg oor die wêreld daagliks uitgesaai word. Vele getuig dat ten spyte van hul agtergrond – Boeddhisme, Hindoeïsme, Islam, Taoïsme, Confucianisme of Agnostisisme – hulle Jesus ontdek. Hulle missie is om die evangelie te versprei na mense wat geisoleer is a.g.v. ekonomiese, geografiese of politiese grense. Hulle fokus veral op dele wat sterk opposisie bied teen die evangelie en daar daarom min of geen toegang is tot Christelike bronne. https://febaradio.co.za/

Johann en Annalena Theron – King Fisher

As  deel van die King Fisher Bediening, is Johan & Annalena op ‘n breë vlak betrokke. Internasionaal (3 mnde elke jaar) behels hulle bediening Evangelie verkondiging aan mense wat nog nooit die Evangelie gehoor het nie. Nasionaal behels hulle bediening onder andere die opbou, groei & dissipelskap van mense in voorheen benadeelde gemeenskappe, asook begeleiding van professionele mense wat die oorgang wil maak van najaag na sukses na ’n beroepslewe van betekenis; Verder bied hulle ook dissipelskap werkswinkels aan om gemeentes en lidmate te help om hulle spesifieke roeping te ontdek.

Stephan en Carina van der Watt: Missie Japan

Die Van der Watt-gesin is betrokke by die Gereformeerde Kerk in Japan sedert April 2009.  Hulle is via Missie Japan na Shikoku-eiland gestuur.  Vir die Japanese is ‘god’ nie ‘n persoonlike God nie en godsdiens nie ‘n norm vir jou lewe nie.  Die Christene is maar 1% en kerke bestaan uit gemiddeld 30-40 mense. Die getuienis van Jesus Christus as die enigste Weg na verlossing ‘is daarom ’n komplekse uitdaging. Die Van der Watt gesin is gemotiveerd in hulle roeping om juis in Japan te getuig van die lig van Jesus Christus. http://www.missiejapan.co.za/

%d bloggers like this: