Home

‘n Gemeente waar ons in verbintenis leef met ons skepper

By Cradock – Oos wil ons ‘n ruimte skep vir elke lidmaat om in verbintenis te leef met ons Skepper en om sy of haar roeping te vind en uit te leef as kind van die Here. Ons gemeente visie is: Leef diensbaar.

Eredienstye

Erediens Sondag 15 Mei om 9:30. Diens word gelei deur Ds. Jan Grobbelaar

Kategese

Kategese vind elke Sondag in die skoolkwartaal na afloop van die erediens plaas. As jou kind nog nie ingeskryf is nie kontak die kerkkantoor.

Erediens: Sondag 8 Mei 2022

Teks: Matteus 6:9-13

Tema: Wat vra dit van ons, as ons die onse Vader bid?

Voorsang

Lied 164 vers 1 en 2

Lied 214 vers 1 en 2

Votum en Seëngroet

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.

Amen

Genade, barhartigheid en vrede dir julle van God ons vader, van die Here Jesus Christus en van die heilige Gees ons trooster.

Amen

Lofsang

Lied 201 vers 1 en 3

Lied 190 vers 1 en 2

Flam 8 vers 1 en 2

Gebed

Teks

9“Só moet julle dan bid:

“Ons Vader  wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word.

10Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.

11Gee ons vandag ons daaglikse brood.

12 En vergeef ons ons skulde,

soos ook ons hulle vergeef

wat teenoor ons skuldig staan.

13En bring ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.

Woordverkondiging

In die evangelie van Lukas lees ons dat die dissipels vir Jesus vra om hulle te leer om te bid en dan leer Jesus hulle die Onse Vader gebed. In Matteus se evangelie lees ons nie dat die dissipels vra dat Jesus hulle moet leer om te bid nie, maar ons kan aavaar dat dit ook die geval is en dat Jesus hulle dan antwoord en sê: So moet julle dan bid. Die vertrekpunt dus is dat met die Onse Vader gebed, Jesus ons wil leer hoe om te bid.

Ek dink vandag nog kan ons baie leer vanuit die gebed wat Jesus ons leer om te bid. Maar voordat ek wil praat oor dit wat Jesus ons leer om te bid wil ek eers ’n ander vraag vra. En dit is die vraag: Waarom bid ons?

Ek lees dat iemand skryf dat die hoofsaak met gebed nie is dat ons bepaaldde versoeke aan God oordra nie, maar dat gebed eintlik daaroor gaan dat ons in verbinding, in persoonlike gemeenskap met die Vader kom. Al doen ek glad niks anders nie as om net uit die diepte van my hart uit te roep: “Liewe Hemelse Vader” dan het die belangrikste reeds gebeur.

Gebed gaan daaroor om vanuit ons verhouding met God, met ’n bewustheid te leef van die nabyheid van God. Aan die een kant kan ons dit dalk beskryf met die beeld van ’n krag prop. Maar dis nou ’n kragprop waar daar nie loadshedding is nie, die Psalms sê mos die Here sluimer nie in nie en hy slaap nie. Nee, by hierdie krag prop is daar altyd krag, maar jy kan net krag tap uit die prop as jy by die prop ingeskakel is. Jy moet bewus van die krag wat daar is, en dan daarby inskakel. Ons moet ingeskakel wees in God. Daar moet ’n verbinding ’n konneksie wees tussen ons en God. Hierdie verbinding word geskep wanneer ons in gebed nader tot God. Of dalk moet ek eerder sê wanneer ons bewus word van God se toe nadering tot ons. Paulus skryf in Filippense 4:5 die woorde: “Die Here is naby.” Hierdie woorde dink ek is baie belangrik. Ons moet leef met ’n bewustheid van die nabyheid van God. Die Here is naby. Hy is by ons, hy het reeds tot ons genader. Ons moet net meer bewus word van sy nabyheid, en hierin is gebed ’n ruimte om meer en meer bewus te word van God se nabyheid.  

Gebed is ’n ruimte van stilword en luister en wag op God, maar dit is ook ’n ruimte waar ons, ons bekommernisse en versoeke met God kan deel. Dis ’n gespreksruimte waar ons vir God ontmoet en ons lewens in totaliteit met God mag deel. Vir baie van ons het gebed egter net ’n ritueel geword. Iets wat ons doen voor ons eet of net voor ons gaan slaap of more oggend as ons opstaan. Ons doen dit uit gewoonte, en dit is natuurlik ’n goeie gewoonte, maar die werklike rede waarom ons bid, om in verbinding met God te kom, om bewus te word van sy nabyheid, dit gaan hierdeur effe verlore. Die fokus is nie meer op die wag en luister en inskakel by God nie, nee die fokus is die afhandeling van ’n godsdienstige taak. Dis tog nie die rede waarom ons bid en aanbid en loof nie. Ons doen dit nie net uit gewoonte nie. Nee, ons doen dit omdat ons ’n lewe leef in verbintenis met God. ’n Lewe voor die aangesig van God. Dit is waarom ons bid. En as ons verstaan dat dit die rede is waarom ons bid, dan kan ons begin vra: Here leer ons om te bid.

Twee weke terug het ek spesifiek gepraat daaroor dat Jesus ons leer om te bid tot God, Onse Vader. Hierdie eerste woorde wil die fokus laat val op ons verhouding met God en hoe God nader tot ons. God nader tot ons as ons Vader. Die klem val hier op die intieme verhouding wat daar bestaan tussen ons en God omdat hy ons Vader is. Op ’n persoonlike vlak is God my Hemelse Vader en dit beteken dat God in my belangstel en dat my doen en late vir God belangrik is en daarom het ek en jy die voorreg om met sekerheid te kan bid tot God ons Vader. ’n Vader wat daar is vir ons, naby ons is en na ons luister en daarom kan ons met vrymoedigheid alles met God deel – van die grootste gebeurtenisse in ons lewens, ons vreugdes ons teleurstellings, ons bekommernisse maar ook die alledaagse kleinighede waarmee ons almal gekonfronteer word. Ons kan dit met God deel, want hy nader tot ons as my en jou persoonlike hemelse Vader.

Ons het ook vir mekaar gesê dat die feit dat Jesus ons leer om in die meervoudsvorm te bid tot “Onse” Vader en nie net my Vader nie, beteken dat dit nie net ek is wat bid tot God as my Vader nie. Nee, met hierdie Onse leer ons dat ander ook ingesluit word in my verbintenis tot God. Jesus leer ons om te bid as ’n lid van ’n groter geloofsgemeenskap. Dit is daarom nie net ek wat roep tot God as my Vader nie, nee, God is Onse Vader. Ons verhouding met God is nie net persoonlik van aard nie. Dit is ook gemeenskaplik van aard. Ons is deel van ’n gemeeenskap van gelowiges wat saam tot God nader en op hom wag. Die gebed leer ons dat hierdie gemeenskap met mekaar met die mense wat God aanroep as hulle Vader baie belangrik is. God verbind homself aan elkeen van ons op ’n intieme wyse maar hy verbind ons ook aan mekaar. Daarom kan ons nie die rug op mekaar keer nie daarom kan ons nie onsself van mekaar issoleer nie, want ons is verbind aan mekaar. Daarom moet ons hierdie onderlinge verhoudings koester en uitbou want God verbind ons nie net met hom nie maar ook met mekaar, want hy is ons almal se Vader, ons behoort tot dieselfde geloofsfamilie. En niemand word hiervan uitgesluit nie. Jesus leer ons dus dat God as Vader na ons nader, maar ook dat hy ons verbind aan mekaar en dat ons dus geroep word om ook tot mekaar te nader en in gemeenskap saam ook tot hom te nader. Liefde vir God en liefde vir ons naaste.

Jesus leer ons dus eerstens tot wie ons bid. Ons bid tot God ons Vader. Dit sê dus ook vir ons wie ons is. Ons is God se kinders, ons is deel van hierdie geloofsfamilie. Dit staan vas. Dis ons identitet. Ons is kinders van ons Hemelse Vader. Maar Jesus leer ons ook ’n volgende ding. Nadat hy ons geleer het tot wie ons bid en wat ons identiteit is, leer Jesus ons ook dat dit waarvoor ons bid, ook ’n stuk belydenis is van dit waartoe ons as gelowiges geroep word. As God se kinders wat leef met die bewustheid van God se nabyheid, wat verstaan wie ons is en dat ons ingeprop is by die krag wat ons van God ontvang, leer ons deur hierdie gebed juis wat ons roeping in hierdie wêreld is.

Wanneer ons gaan kyk na dit wat Jesus ons leer om voor te bid en ons gaan en evalueer ons lewens daarvolgens, dan skets dit eintlik vir ons ’n baie tragiese prentjie. Want ons tekortkominge word eintlik ontbloot in elkeen van die bedes wat ons bid.

Wanneer ons bid: “Ons Vader wat in die hemel is” – Dan bely ons deur hierdie woorde dat ons bid tot hierdie een Here wat ons Vader is. Ons moet egter bely dat ons lewens baie keer eerder daarvan getuig, dat daar baie ander gode is in ons lewens. Dinge in die lewe wat ons tyd en energie steel en in die pad kom staan daarvan dat ons leef in verbintenis met God en met die bewustheid van die teenwoordigheid van God. Dalk is dit ons gemaksugtigheid. Dalk is dit die oortuiging dat ons by magte is om onafhanklik en self versorgend te wees en dat ons nie eintlik meer vir God regtig nodig het nie. Dalk begin ons leef met die oortuiging dat God nie meer ’n werklikheid is nie. Die beginsels van die Bybel is dalk nog belangrik soos die oproep tot die liefde vir mekaar, maar dit is al wat dit is, mooi morele lewenslesse, maar daar is nie regtig meer sprake van ’n God wat tot ons nader nie. God was ’n mooi gedagte maar dit is nie meer vandag geldig nie. Ons doen dalk nog die rituele van godsdiens. Ons gaan dalk selfs kerk toe. Of ons dink dat die kerk nog ’n rol moet speel soos wanneer kinders gedoop moet word of begrafnisse gehou moet word of mense wil trou. Maar die egte verhouding met God as ons Vader, ’n lewe wat bewus is van die teenwoordigheid van God en wat op God wag, dit bestaan nie meer nie. Ons soek hom nie meer op in ons lewens nie, ons wag nie meer op hom nie, want God is nie meer ’n prioriteit nie. Ons beoefen dalk nog godsdiens, maar die verhouidng met God is tot niet. Jesus leer ons egter om te bid tot God, Ons Vader wat in die hemel is. Ons Vader wat God is en wat in ’n baie intieme persoonlike verhouding met ons elkeen wil leef. ’n God wat nie ver is nie maar wat naby is en wat daagliks tot ons nader.

Verder leer Jesus ons om te bid: “laat U Naam geheilig word.” As ons hierdie bede bid dan bely ons dat ons deur ons lewe en optrede die naam van God moet heilig. Hiermee stel ons onsself geweldig bloot. Ek dink nie een van ons kan vanoggend eerlik sê dat ons deur ons lewens met ons optrede elke oomblik God se naam heilig nie. Ons moet besef dat as ons onsself Christene noem, word ons daardeur verbind met God. Ons optrede word dus verbind met God se naam. Dis soos ’n familie naam. Hoe jy optree reflekteer op almal wat deel is van daardie familie. Dit kan skande bring tot die familie of dit kan die naam gestand doen. As Christene moet ons die naam Christen gestand doen. Ongelukkig kry ons dit nie altyd reg nie. Ons is van nature meer geneig om God se naam te ontheilig in ons optrede, veral teenoor ons naaste. In baie gevalle in my en jou alledaagse lewe doen ons God se naam meer skade aan, deur dit wat ons sê en doen. Daarom as ons bid – “Laat U naam geheilig word” dan herinner ons onsself daaraan dat ons ook deur ons optrede die naam van God moet heilig.

Wanneer ons bid – “laat U koninkryk kom en laat U wil geskied” – verbind ons onsself daartoe om God se koninkryk te help vestig en om te soek na God se wil.  As ons bid dat God se wil moet geskied dan sê ons dat ons, ons eie selfsugtige wil prysgee. Ons lewens word egter meestal gekenmerk aan die feit dat ons, ons eie wil volg en ons eie keuses maak en ons eie optrede bepaal. Ons bid vir God se wil maar sê eintlik laat my eie wil tog net asseblief geskied. Laat my toe om te maak soos ek wil. Ek wil die vryheid hê om te dink en te doen en te sê wat ek wil.

En dieselfde geld as dit kom by die Bid dat God se koninkryk sal kom.  Ek vra dat U koninkryk sal kom, maar wat vir my eintlik die meeste beteken, is my eie klein ou koninkrykie in hierdie lewe. My besittings, my bankbalans, my eiendomme, my status dit is vir my belangriker en ek beskerm dit met al my mag, maar om God se koninkryk uit te brei op aarde, deur naasteliefde en te gee waar daar behoefte is, is nie baie hoog op my agenda nie – want my hele bestaan handel daar rondom om sover ek kan my koninkryk en my belange  te beskerm. 

Ek bid vir my daaglikse brood, dat die Here sal voorsien in my daaglikse behoeftes, maar my eie oë bly gesluit vir ’n wêreld waarin miljoene mense van honger sterf, terwyl ander, myself ingesluit, genoeg brood het om van te leef.  Die daaglikse brood wat ons elke dag uit genade ontvang beskou ons as ons eie verdienste, dit behoort aan ons, en ons is nie bereid om dit te deel met mense wat minder het nie.  Ja, ons bid en sê dat alles wat ek het ’n genade-gawe uit God se hand is, maar ons weier om hierdie genade wat ons ontvang het met mense wat minder het te deel.

Ek bid en vra vir vergifnis, maar ek is heel tevrede om my broer of suster se oortredinge teen hulle te hou. Ek bid en vra dat God my sal vergeef vir die foute wat ek maak en die sondes wat ek doen, maar ek kies om kwaad met kwaad te vergeld in my eie lewe.  Ek wat telkemale my sondeskuld voor God bely en vergifnis ontvang, sien nie kans om ander te vergewe nie.  Ek wat vergifnis van God ontvang, daagliks, bly dood tevrede om wraak te koester en te hammer op ander se foute en hulle verlede, maar ek is nie bereid om hulle genadig te wees nie.  

As jy die Onse Vader gebed bid, kan jy nie anders as om te bely – Vader, dit waarvoor ek hier bid, word maar selde in my eie lewe geleef.  As jy hierdie gebed bid dink jy by jouself – Ja, Vader, ek wil so graag alles aan U oorgee, maar diep binne my sê ek ook vir myself – ‘Darem nie alles nie.’  In my persoonlike lewe, by my werk en vrye tyd kan ek nie bekostig om U Naam te heilig nie.  Op hierdie een gebied wil ek maar eerder bely – Laat my wil geskied, laat my koninkryk voorgang geniet. Op hierdie gebied wil ek maar eerder my eie naam teken.

Ons kan die Onse Vader gebed eers met ’n opregte hart bid, as ons besef dat ons nie ons eie naam kan teken aan die einde van hierdie gebed nie. Dit is inderdaad so dat daar sekere afgode in ons lewens is wat ons tot elke prys vir onsself wil behou. Daar is terreine in ons lewe wat ons hardnekkig vir ons eie keuses bespreek, wat ons nie aan God wil oorhandig nie – terreine in my lewe waar God maar eerder nie Sy Naam moet kom heg nie.

Maar dit is juis wat die Onse Vader gebed van ons vra:  Dat dit waarvoor ek bid, gestalte sal vind in my eie lewe.  Die gebed is ’n oproep aan my en jou dat die inhoud van hierdie gebed ’n realiteit sal word in my alledaagse lewe – by my werk, by my huis en met my alledaagse omgang met my medemens. 

Die gebed vra van my as bidder dat ek die verantwoordelikheid sal neem om God se koninkryk sigbaar te gaan maak, om God se naam te heilig, te vra na sy wil, My brood te deel met die wat nie het nie, en om ander te vergewe wat my te na gekom het. Die gebed vra ’n verandering in my lewe, dit vra van my om volgens ’n stel waardes te gaan leef wat vir die wêreld daarbuite vreemd is.

En as ’n mens mooi daaroor gaan nadink is dit presies wat Jesus se bediening gekenmerk het. Jesus self het nie net die gebed, gebid nie, nee, bo alles was dit die kenmerke van sy lewe. In totale afhanklikheid en in verbintenis met sy Vader het Jesus die gebed nie net gebid nie, maar ook geleef.  ’n Mens sou kon sê dat Jesus die Onse vader gebed beamen het juis deur dit deel van sy alledaagse lewe te maak. 

Om die waarheid te sê was, en is Jesus, die enigste persoon in die geskiedenis wat sy naam kon onderteken aan die einde van hierdie gebed – Wat dit in die volle sin van die woord kon beamen. En dit is waarin die troos vir ons elkeen ook lê. Ja, danksy Christus kan en mag ons ook nou hierdie gebed bid en vra dat hierdie woorde van die gebed wat alreeds in Christus ’n realiteit is, ook sal deurskemer in my en jou lewe. 

Daarom, is dit ook my gebed, dat hierdie gebed wat Jesus vir ons moontlik gemaak het om te bid, nie alleen ’n gesprek sal word met My Vader in my binnekamer nie, maar dat hierdie gebed, ook saam met my en jou die binnekamer sal verlaat, en die wêreld sal invaar.

As gelowiges moet ons gaan leef met die bewusthied van die nabyheid van God. Ons moet ingeprop wees by die kragnetwerk van God. As ons wag op die Here as ons leef voor sy aangesig dan begin sy strewes en dit wat vir God belangrik is ook deel te word van ons lewnes. Ja, ons faal baie keer, maar wanneer ons leef met die bewustheid van God se nabyheid, dat hy ook my Vader is wat in ’n intieme verhouding met my wil leef, dan ontvang ons ook die krag om nie net die Onse Vader gebed te bid nie, maar dit ook te gaan leef in die wêreld. Kom ons gaan leef met die bewustheid van God se nabyheid in ons lewens kom ons prop onsself in in sy krganetwerk, en kom ons gaan leef die Onse Vader gebed uit in die wêreld.

Amen

Gebed

Slotlied

Lied 266

Seëngroet

Num 6: 24-27

Die Here sal julle seen en julle beskerm

Die Here sal tot julle redding verskyn

En julle genadig wees

Die Here sal julle gebede verhoor

En aan julle vrede gee!

Amen

Erediens: Sondag 24 April 2022

Teks: Matteus 6:9-13

Tema: “Onse Vader”

Voorsang

Lied 212 vers 1 en 2

Lied 177 – maal 2

Votum en Seëngroet

Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan vas in die Here.

Amen

Die Here groet ons vannaand met die woorde: Genade en vrede vir julle van God ons Vader, van die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van Heilige Gees.

Amen

Lofprysing

Lied 514 vers 1 en 2

Lied 547 vers 1 en 2

Gebed

Woordverkondiging

Die Onse Vader gebed, is ’n gebed wat die verbeelding aangryp. As gelowiges bid ons dit nie net nie, maar ons oordink dit. Ons dink oor die betekenis van elke woord en elke bede van hierdie gebed. Die gebed gryp die verbeelding aan, omdat Jesus ons geleer het om so te bid. Ek onthou nog self hoe ek as kind geleer het om die Onse Vader gebed te bid. Ons het dit geleer in die woorde van die Ou Afrikaanse vertaling wat begin het met die woord, “Onse.” Die woord “onse” het vir my so bietjie van ’n emosionele konnotasie wat nie so duidelik vir my deurkom in die gewone woord “ons” nie. Onse gee iets weer van daardie gevoel van behoort. ’n Gevoel dat ’n mens ingesluit word in die familiekring van die Vader tot wie ons bid. Ons bid nie tot enige Vader nie, nee Hy is my Vader. Hy is jou Vader. Dit is onse Vader.

Dit is vir my baie betekenisvol om juis te besef dat die woorde van die onse Vader gebed hierdie gevoel van behoort wil ondervang. Daarom dat die gebed regdeur in meervoudsvorm praat. Ons bid byvoorbeeld in die gebed –  gee ons, ons daaglikse brood, vergeef ons, ons oortredings, laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose. Die meervoudsvorm word gebruik om ’n gevoel van inklusiwiteit te skep. Die Onse Vader gebed wil juis daarop wys dat om ’n Christen te wees, beteken dat jy aan die Vader behoort, maar dan baie belangrik, dat jy nie die enigste een is wat aan die Vader behoort nie, nee dat ons almal, al God se kinders, aan ons Vader behoort en dat ons daarom ook aan mekaar verbind is en aan mekaar behoort. Want God is Onse Vader.

Natuurlik beteken dit nie dat ons nie as individue ’n eie persoonlike pad saam met die Here loop nie. Nee, elkeen van ons is op ons eie unieke reis saam met God. Want God is my God. Hy is ook jou God. Ons bely dat ons glo in Jesus as ons persoonlike verlosser en saligmaker. Daarom het elkeen van ons ’n baie persoonlike en unieke reis saam met God. By die doopfont word dit ook bevestig, want God verbind homself daar tot elkeen van ons op ’n individuele wyse. Maar ons word as dopelinge ook deel van ’n gemeenskap van gelowiges wat verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar. Daarom bely ons ook in die apostoliese geloofsbeldydenis dat ons glo in die gemeenskap van gelowiges. Ons persoonlike reis saam met God is dus nie net ’n individuele reis nie. Dit is ’n reis saam met mede gelowiges. Dit is ’n reis saam met almal wat God aanbid as onse Vader.

Ja, as Christene kan ons daarom soms alleen, as enkelinge, met God verkeer, maar ons moet ook saam met medemense, vir God aanbid. Daarom dat die Hebreër brief byvoorbeeld mense aanmoedig om nie weg te bly van die samekomste van die gemeente nie. Want in ons saamwees beleef ons die gemeenskap van gelowiges en vind die aanbidding van onse Vader plaas. As kerk moet ons saam kom, saam aanbid en saam stry vir die evangelie, want deur Christus word ons aan die Vader verbind en deur ons verbintenis aan die Vader word ons ook aan mekaar verbind. Daarom kan ons mekaar nooit los nie. Daarom kan ons nie mekaar vergeet nie. Daarom kan ons nie ons rug op mekaar keer en nie vir mekaar omgee nie Nee, ons is deel van een groot familie in Christus Jesus. Ons het een Vader. Onse Vader wat in die hemel is. As kerk as gemeenskap van gelowiges het ons ’n verantwoordelikheid om gestatlte te gee aan die gemeenskap van gelowiges. Ons moet daarom vir mekaar lief wees, mekaar aanvaar en mekaar versorg, sodat die wêreld deur ons liefde vir mekaar vir God as ons Vader kan leer ken.

Die “onse” van die Onse Vader-gebed maak ruimte vir die individu se persoonlike omgang met die Vader, maar dis nie ’n omgang met die Vader wat kan geskied in afsondering van die Vader se ander kinders nie. Ons elkeen se eie intieme, persoonlike omgang met die Vader kan nooit ’n private omgang met die Vader wees wat van so aard is dat dit ander uitsluit nie en bloot net op eiebelang en selfsug ingestel is nie. Nee, elke individu se omgang met die Vader moet altyd die Vader se ander kinders en skepsels ook in gedagte hou. Want wie tot die Heilige nader, nader ook tot die heiliges. Wie God Vader noem, word deel van ’n gesin. Ja, in ons alleentye met die Vader moet ons daarom altyd die ander kinders van die Vader ook in die oog hou. Die toetssteen vir die inklusiewe en insluitende aard van die alleentye met die Vader is juis of ons ook saam met die Vader se ander kinders Hom aanbid.

In ’n wêreld waar sovele mense eensaam is en uitgesluit voel, en inderdaad ook op sovele maniere uitgesluit word, hou die woordjie “onse” soveel troos in. In ’n wêreld waarin talle die angs van verwerping ervaar, is die uitnodigende en inklusiewe aard van hierdie gebed eintlik ’n stuk bevrydende evangelie. Daarom moet ons as kerk ook gestalte gee aan hierdie inlsuitende inklusiewe aard van die gebed. Die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing, is nuus vir die hele wêreld. Dit sluit niemand uit nie. Dit is nuus wat almal moet hoor. En ons as kerk het die verantwoordelikheid ontvang om hierdie nuus te gaan deel met die wêreld. Eerstens moet ons so teenoor mekaar leef dat mense in ons verhoudings met mekaar, in ons eensgesindheid in ons omgee en in ons belangstelling in mekaar kan sien dat ons leef met liefde wat insluit. Ons verhoudings met mekaar is die eerste vorm van getuienis teenoor die wêreld. Daarom moet ons moeite maak met ons verhoudings met mekaar,. Maar ons moet ook moeite maak met die mense wat buite ons kring staan. Die wat in die wêreld leef. Ons moet na hulle ook uitreik met insluitende onvoorwaardelike liefde. Ons kan nie na die wêreld kyk met oë wat veroordeel en verwerp nie. Nee, ons moet kyk met oë wat liefhet en hulle wil nadertrek en intrek in hierdie liefdesgemeenskap waarvan ons deel is. Ons moet hulle intrek omdat Jesus ons deur hierdie gebed leer dat ons almal aan mekaar verbind word deur onse Vader.

As Jesus ons leer om te bid, leer hy ons op ’n baie spesifieke wyse om te bid tot God as onse Vader. Die woord wat hy gebruik het om na God as Vader te verwys is die woord Abba. Abba is nie ’n formele woord vir Vader nie, maar een wat eerder dui op die intimiteit van die verhouding tussen ’n Vader en sy kinders. Dit kan daarom eerder in Afrikaans vetaal word met die woord, Pappa. Hierdie liefdevolle en intieme verwysing na God as “Pappa” impliseer ’n kinderlike vertroue. Jesus stel die dissipels en ook vir ons voor aan ’n ander verstaan van God as die Een wat ons in die Ou Testament leer ken het. Slegs 14 keer word daar na God in die Ou Testament verwys as Vader. Elkeen van hierdie 14 keer waar daar na God as Vader verwys word, val die klem op die sterk verhouding tussen God en Israel. Hierdie intieme, kinderlike en inklusiewe wyse waarop Jeus na God as “Vader” verwys moes vir die dissipels totaal onverwags wees. Dit sou vreemd vir hulle klink dat God op so intieme wyse hulle Vader is. Jesus noem vir God 170 maal in die evangelies Vader, en 17 keer in die bergrede alleen. In die hele Nuwe Testament word daar 245 maal verwys na God as Vader. Jesus wil hierdeur die klem laat val op die persoonlike, intieme verhouding wat die Vader met ons elkeen het. Ja, dat God vir ons almal toeganklik is. Dat hy ’n God is soos ’n liefdevolle pappa wat begrip het; wat omgee; wat luister en reageer; wat nie net op ’n afstand dophou nie, maar wat betrokke is by mense se behoeftes. God is my en jou hemelse Pappa. Wat ’n nabye verhouding met elkeen van ons wil hê. Hy is jou Pappa. Maar dan moet ons nie vergeet nie, hy is Onse Pappa. As kinders van God word ons as ’n familie aan mkeaar verbind. Ons word ’n gemeenskap van gelowiges.  

Die gemeenskap waarna die woordjie “onse” verwys, word helder beskryf deur Paulus in 2 Korintiërs 13:13. Paulus beskryf die gemeenskap van God se kinders as die gemeenskap van die Heilige Gees. Dit hoor ons as hy die bekende seëngroet uitspreek waarin ons geseën word met die genade van ons Here Jesus Christus, met die liefde van God onse Vader en met die gemeenskap van die Heilige Gees.

Die gemeenskap van die Heilige Gees is ’n besondere seën. Dit dui eerstens op die intieme band tussen Vader, Seun en Heilige Gees en hierdie intieme verbintenis tussen die drie persone van die drie eenheid is vir ons die perfekte voorbeeld van ’n eenheids verhouding. Hulle bestaan in perfekte harmonie met mekaar, in ’n gemeenskap van onderlinge liefde. En die Gees is die band van liefde en eenheid wat die drie eenheid aan mekaar verbind. Daarom gekyk na die gemeenskap wat bestaan binne die drie – eenheid, dui die gemeenskap van die Heilige Gees ook vir ons op die intieme verhouding wat daar is tussen die drie-enige God en ons as mense. Wanneer ons geseën word met die gemeenskap van die Heilige Gees dui dit daarop dat God deur die heilige Gees homself ook aan elkeen van ons verbind. Maar dan wat verder belangrik is, is dat die heilige Gees ons as gelowiges ook aan mekaar verbind. Daarom moet daar ook in liefde eenheid wees tussen mense onder mekaar. Ons kan dus sê dat die gemeenskap wat die “onse” in gedagte het, die gemeenskap van die Gees is, ’n gemeenskap tussen God en sy mense, en ’n gemeenskap tussen mense onder mekaar.

Paulus beskryf hierdie gemeenskap as ’n ruimte waar ons die genade van Jesus Christus en die liefde van God onse Vader moet ervaar. Die gemeenskap van die Gees is dus ’n ruimte van genade en vergifnis, van onvoorwaardelike liefde en van aanvaarding en omarming, om ast’ware my arms om jou lyf te sit en daarmee te sê, ek maak vir jou plek hier by my in my ruimte in my hart. In hierdie gemeenskap moet ons dus ervaar dat ons geliefd is en aanvaar word ten spyte van ons sondes en ons tekortkominge.

Die bekende Amerikaanse teoloog, Paul Tillich, het geïdentifiseer dat daar drie stelle angste, of vrese is waarmee mense leef. Een van daardie drie stelle is die angs vir verwerping. Mense is angstig en bang dat ons verwerp sal word, dat ons uitgesluit sal word. Juis omdat so baie van ons meen dat ons nie goed genoeg is nie. Ons dink dalk ons leef nie moreel goed genoeg nie, ons dien die Here nie goed genoeg nie, ons presteer nie goed genoeg nie, ons lyk nie mooi genoeg nie, ons besit nie genoeg nie. Die lys van ons sogenaamde tekortkominge, die lys van redes waarom ons verwerping en uitsluiting verdien, is oneindig. Vir mense wat met hierdie angs leef, is die noodroep van die “onse” ’n stuk troos, ’n stuk geloofsbelydenis, ’n stuk protes téén uitsluiting en ’n oproep tot insluiting en aanvaarding. Hierdie “onse” is bevrydende nuus vir mense wat uitsluiting en verwerping iewers in hulle lewe ervaar.  

Mense wat die Onse Vader gebed bid, getuig eintlik van ’n nuwe soort gemeenskap, ’n gemeenskap van inklusiwiteit, ’n gemeenskap waar mense ervaar dat hulle onvoorwaardelik behoort. Maar mense wat hierdie gebed bid, moet ook weet dat hulle hulleself daartoe verbind, om as getuies van God se liefde, hulleself te beywer daarvoor om hierdie inklusiewe gemeenskap te verwesenlik. Mense wat hierdie gebed bid, moet weet God is reeds besig, God is besig om hierdie nuwe inklusiewe gemeenskap te skep. God is aan die werk in hierdie wêreld en ons moet dit raak sien. En ons moet deelneem aan die werk, om hierdie inklusiewe gemeenskappe te bevorder.

In ’n wêreld waar só baie mense uitgesluit word, en waar só baie mense verwerping beleef, moet ons noodroepe opstyg na God sodat alle mense sal hoor hulle kan deel word van hierdie gemeenskap. Hulle mag deel wees van hierdie “onse”, aan hierdie gemeenskap van die Heilige Gees, aan hierdie gemeenskap van genade, vergifnis en onvoorwaardelike aanvaarding; aan hierdie gemeenskap van uitverkiesende liefde, sorgende liefde, vergewende liefde, genesende liefde; aan hierdie gemeenskap waar jy ervaar daar is medemense wat omgee, medemense saam met wie jy God se liefde en vrede geniet, medemense saam met wie jy reis om in Christus en die Vader te bly.

Vir hierdie wêreld hierdie wêreld wat so maklik uitsluit moet ons weer begin bid: “Onse Vader.”

Amen

Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die almagtige die skepper van die Hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God die almagtige Vader, van waar hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, Ek glo in die Heilige Gees ek glo aan ’n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die Heiliges die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees; En ’n ewige lewe.

Amen

Dankoffers

Slotlied

Lied 266

Seëngroet

Die genade van ons here Jesus Christus die liefde van God onse Vader en die gemeenskap van die heilige Gees sal met julle elkeen wees en bly

Amen

Erediens: Sondag 18 April 2022

Teks: Matteus 28:1-15

Tema: Opstandingssondag

Voorsang

Lied 422 vers 1 en 2

Lied 207 vers 1 en 4

Votum en Seëngroet

Johannes 11:25

Ek is die opstanding en die lewe, Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in ewigheid nooit sterwe nie.

Amen

Liewe gemeente, Ek groet julle vanoggend met die feestelike paasgroet wat vandag oor die hele wêreld weerklank: Die Here Het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!!

Lofsang

Vanoggend vier ons die feit dat God die dood oorwin het en ons kan hom daarvoor loof. Ons hoor dit ook in die woorde van Paulus as hy in 1 Korintiërs 15: 54 en 55 skryf: “die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood waar is jou oorwinning, dood waar is jou angel. Kom ons loof nou vanoggend die Here vir hierdie oorwinning wat hy oor die dood gebring het met die woorde van lied:

Lied 417 vers 1 en 2

Psalm 100 – Totuis beryming

Bediening van die Doop

Ons het vanoggend die voorreg om die doop aan ’n kind te bedien. Voordat ons egter die doop gaan bedien is dit belangrik dat ons net eers weer luister vanoggend na die beloftes wat God aan ons maak met die doop. Die beloftes wat God ook aan my en jou gemaak het die dag toe ons gedoop is. Beloftes wat vandag nog steeds vir ons elkeen geld.  

Die doop is ’n seël en ’n waarborg van God se genadeverbond met ons en ons kinders. Hierdie verbondsverhouding vertel ons van God se genade vir ons en dat hy ons gekies het om sy kinders te wees en dat Hy beloof om ons God te wees nog voordat ons dit self kan doen. Dit vertel ons van God se genade wat ons red uit vrye guns alleen. God, Drie – enig, Vader, Seun en Heilige Gees verbind homself deur sy verbondsbeloftes aan ons en ons kinders om ons God te wees.

Wanneer ons ons kinders doop in die naam van die Vader

  • Dan bevestig die Vader met die doop vanoggend die verbondsverhouding wat hy met hierdie kinders tot stand bring: God kom beloof deur die doop vanoggend dat hy deur Jesus Christus hierdie kinders as sy eie kinders aanneem en deel van sy kerk maak. In die woorde van Genesis 17 sê God aan hierdie kinders deur die teken van die doop vanoggend: “Ek is jou God en jy is my kind!”

Wanneer ons ons kinders doop in die naam van die Seun

  • Dan beloof en bevestig Jesus Christus dat hierdie kinders met liggaam en siel in lewe en in sterwe, nie aan hulleself nie, maar aan hulle getroue Verlosser behoort.
  • Deur die doop beloof Jesus ook dat hy met sy kosbare bloed vir al hulle sondes ten volle betaal het, dat Hy die straf van God op hulle sonde in hulle plek reeds gedra het en dat hy die mag van die sonde oor hulle gebreek het.

Wanneer ons, ons kinders doop in die naam van die Heilige Gees

  • Dan beloof en verseker die  Heilige Gees hierdie kinders dat God ook aan hulle die ewige lewe uit genade geskenk het.
  • Die Heilige Gees beloof om hulle liggame sy tempel te maak.
  • Die Heilige Gees beloof ook om in hulle te werk en hulle in hulle harte te oortuig van al die beloftes wat die Vader en Christus aan hulle geskenk het, en dit in hulle lewens tot stand te bring.

Roepouers vorentoe

Cyril en Anneke

Verbintenis

Ons het nou gehoor wat die doop beteken. Daarom vra ek nou dat julle opreg die volgende vrae sal antwoord.

  • Bely julle dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?
  • Aanvaar julle die Bybel as die woord van God en aanvaar julle die leer van die kerk soos die belydenisskrifte dit verwoord, as die ware en volkome leer van verlosssing?
  • Beloof julle om hierdie kind in die leer na die beste van julle vermoë te onderrig en ook te laat onderrig

Inbring van Baba: Lied 292 vers 1

Bediening van die doop:

Aliana Yolandi Coetzer

Gebed by die doop

Lied 292 vers 2

Gebed

Woordverkondiging

Vanoggend het ons as gemeente en as kerk wêreldwyd die geleentheid om die wonder van Jesus se opstanding te vier. Die grootste gebeurtenis in mense heugenis, die dag toe Jesus die dood oorwin het en lewend geword het. Op daardie Sondag more toe Jesus uit die dood uit opgewek is, het hy die dood vir altyd vir ons verander sodat die dood die deurgang geword het na die ewige lewe.

 ’n Nuwe era het vir die wêreld aangebreek. Matteus begin sy verhaal deur vir ons te vertel dat die vroue die Sondag vroegoggend met dagbreek na die graf toe gegaan het. Dagbreek is nou mos juis die tyd van die dag wanneer ’n mens met gespanne verwagting uitsien na dit wat die dag vir ’n mens inhou. So begin die gebeure van die eerste Paassondag met dagbreek. En dan is dit ook nog op ’n Sondag oggend, die eerste dag van die week, ’n nuwe week. Op hierdie Sondag oggend aan die begin van ’n nuwe week met dagbreek, word daar ’n nuwe era vir die mensdom ingelei met nuwe moontlikhede.

Die vroue is op pad na Jesus se graf, maar dit is duidelik dat hulle nog nie bewus is van die merkwaardige gebeurtenis wat reeds plaasgevind het nie, hulle is nie bewus van die nuwe era wat hulle betree het nie. Nee, volgens hulle is Jesus steeds in die graf. Hulle was oortuig dat hulle reis saam met Jesus finaal geëindig het toe hulle sy dooie liggaam in die graf neergelê en die steen voor die graf gerol het. Dit was ondenkbaar vir hulle dat Jesus nog ’n verdere rol sou speel in hulle lewens, want hy is dood. Hulle het finaal van hom afskeid geneem. Die pad saam, die leringe, die prediking, die wonderwerke van hulle Rabbi is volgens hulle nou verby.

Die wonder van opstandingssondag is egter dat dit wat die vroue geglo het nie waar is nie. Die Opstandingssondag was nie die einde van ’n era nie, nee, ’n nuwe era het daardie dag aangebreek. Dit was nie die einde nie, maar die begin van iets nuuts.

Die vraag waarmee ek worstel is of ons in die kerk werklik glo dat daar met Christus se opstanding ’n nuwe era aangebreek het. Dat die opstanding regtig ons werklikheid kom verander het. Ons teksgedeelte is baie duidelik daaroor dat Jesus opgewek is. Ons hoor dit in die woorde van die engel as ons lees: “Hy is nie hier nie, want hy is uit die dood opgewek.” Ek wonder egter of ons enigsins iets van die wonder en die implikasies van die opstanding begryp. Want die wonder van die opstanding is nie net opgesluit in die feit dat Jesus dood was en weer lewe nie, nee dit is soveel meer as dit. Jesus se opstanding het ook implikasies vir ons lewe hier en nou.

Daarom moet ons weer vanoggend hoor wat dit vir ons beteken dat Jesus uit die dood opgestaan het, sodat ons ook daarvolgens kan gaan lewe. Ek lees iemand skryf iewers dat die opstanding van Jesus die spilpunt is waar rondom die hele evangelie draai. Sonder die opstanding verloor die evangelie alle waarde. Paulus gebruik bv. baie sterk terme om so ’n opstandinglose evangelie te beskrywe. Hy skryf dat so evangelie “sonder inhoud is”, “waardeloos is”, en selfs dat diegene wat so evangelie glo “die bejammerinswaardigste van alle mense is.”

Die rede waarom die opstanding van Jesus die spilpunt is van die evangelie, is omdat God deur die opstanding aan ons bewys hoe lief hy ons werklik het. Dat Jesus vir ons gekruisig is en gesterwe het is die bewys dat God ons sondes vergewe het, maar die opstanding bevestig aan ons dat die kruisgebeure nie net bloot ’n historiese en eenmalige gebeurtenis was nie, maar dat die kruisgebeure ewigheidswaarde het. Met ander woorde dat wat aan die kruis gebeur het verlossing vir elkeen gebring het, en dat vergifnis van sondes daar plaasgevind het vir alle sondes, die Sondes van die verlede en ook die sondes van die toekoms. Die opstanding dien vir ons dus as finale bewys dat Jesus werklik die Here is en dat hy werklik die seun van God was. Die opstanding bewys aan ons bo alle twyfel dat die een wat aan die kruis gesterf het nie net ’n gewone mens was nie, maar dat dit die seun van God was, dat dit God self was en dat sy dood en sterwe daarom gedien het as finale offer vir ons sondes. Daarom kan ons vandag met sekerheid sê dat al ons sondes werklik vergewe is. In ons teksgedeelte maak die engel dit ook duidelik as ons lees: “Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.” Die een wat opgestaan het is die een wat gekruisig is. Dit is nie enige een wat opgestaan het nie, Nee, dit is Jesus wat opgestaan het, die gekruisigde. Daarom het die opstanding ’n ander karakter. Dit is die waarborg vir ons dat die koninkryk wat Jesus verkondig het, die beloftes wat hy gemaak het, die vergifnis van sondes wat hy bewerk het ’n werklikheid is.

Die opstanding van Jesus bevestig daarom dat God se liefde vir ons veel meer baat as net die vergifnis van ons sondes. Nee, met die opstanding sê die Here vir ons dat sy liefde tot binne in die dood strek en dat hy ons uit die mag van die dood vir ewig geruk het en dat ons daarom kan seker wees van die ewige lewe.

Daarom begin daar met die opstanding werklik waar ’n nuwe era, ’n era waar God kan sê dat alles weereens baie goed is. Soos een persoon skryf: Christus het opgestaan, maar nie ons sonde nie; die het saam met Hom gesterf. Die straf op daardie sonde is vir ewig in Christus se leë graf begrawe.

Die boodskap van die engel dat die Gekruisigde leef, het  alles radikaal verander. Vir Jesus se volgelinge het alles verander want nou besef hulle, sy beloftes was dus tog waar!… Hulle het hom dus tog nie tevergeefs gevolg  nie. Hulle drome oor hom was dus tog nie ydel en leeg nie… Sy gelykenisse het dus tog die wêreld herbeskryf soos wat dinge waarlik is! Sy werke was dus tog die eerste tekens van die totale herstel van die wêreld wat sou kom. Sy prediking was dus tog vol gesag, waarheid en krag! God is dus tog oneindig liefdevol en genadig. God gee dus tog om, ook vir die eenvoudiges en hulpeloses… Vir enkele verskriklike dae het dinge soveel anders gelyk. Maar na Jesus se opwekking sal niks ooit weer dieselfde wees nie. Alles staan vir eens en vir altyd in ’n ander lig, alles is onherroeplik verander.

Dit is daarom baie belangrik dat ons ook sal weet dat die opstanding ten doel het om ons ook te verander. Ook ons kan nie anders as om soos die vroue met blydskap haastig van die graf af weg te gaan om die blyeboodskap aan die wêreld te gaan vertel nie. Want vir ons beteken die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood dat ons almal weer ’n kans kry, ’n tweede, derde, vierde en selfs ’n vyfde kans. Nie net kry ons die kans om na ons dood by God te wees nie, maar Hy het ons deur sy opstanding bemagtig om elke keer weer op te staan as die sonde ons platslaan. Want in die opstanding vind ons dat daar by God altyd genade is, maak nie saak hoe groot ons sonde is nie.

Dat ons hierdie era van genade wat God ingelei het met Jesus se opstanding – dat ons hierdie nuwe era nog nie volledig begryp nie is duidelik in hoe ons in hierdie wêreld en ook in die kerk steeds teenoor mekaar lewe. God se liefde vir ons, beweeg en verander ons nog nie genoeg dat ons met liefde teenoor God en teenoor die wêreld leef nie. Ons haat steeds te maklik. Ons barmhartigheid is steeds te min, ons omgee en liefde strek steeds nie ver genoeg nie, te maklik trek ons grense daarom. Te maklik sluit ons mense uit, te maklik beperk ons ons liefde en omgee en deel ons dit net met sekeres. Te maklik besluit ons wie verdien ons liefde en wie nie. Te maklik wil ons god speel oor die vergifnis van mense se sondes en hulle verlossing asof ons enigsins iets daaroor te sê het.

Die opstanding sê vir ons dat al wat ons moet weet is dat God ons lief het, dat hy ons uit genade alleen red, en dat al wat hy van ons vra is om in dankbaarheid met liefde teenoor mekaar te lewe. Dit is sy opdrag. Ons hoor dit ook weerklink in die laaste verse van Matteus 28 as ons daar lees: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die naam van die Vader en die seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”

Jesus se opstanding verander ons realiteit ook nog op ’n tweede wyse en dit is dat die opstanding ons roep om vas te hou aan die hoop dat die onmoontlike moontlik is. Lewe is moontlik na die dood. As kerk word ons geroep om hierdie hoopvolle boodskap met die wêreld te deel. Om te verkondig dat wanneer dinge hopeloos lyk daar altyd moontlikheid op uitkoms is. Ons sien soveel seer en gebrokenheid in die wêreld ons sien dit  in werkloosheid, armoede, morele verval, die belewenis van verskeie vorme van trauma, geweld en misdaad. Die boodskap van die opstanding wil egter lig bring in donker tye. Ja, wanneer dit lyk asof daar niks goeds meer in die wêreld oor is nie, moet die realiteit en die troos van die opstandingsgebeure steeds vir ons ’n hoopvolle teken wees. Want die gebeure van die Paasoggend bevestig: Daar is niks wat ons kan ervaar wat nie deur God omgedraai kan word nie; daar is selfs nie eers ’n graf diep genoeg om die hoop van die opstanding uit te hou nie. Die opstanding bevestig die moontlikheid van die skynbare onmoontlike. Wanneer ons gekonfronteer word deur die gebrokenheid van hierdie wêreld moet ons onthou dat ons hierdie pad stap saam met ’n almagtige God, ons stap die pad saam met die opgestane Here. By God bestaan die moontlikheid van die skynbare onmoontlike. Ja, soms kan ons die uitdagings van die lewe beleef as ’n groot klip wat in ons lewenspad ingerol word. Opstandingssondag gee ons die hoop dat ook hierdie stene uit ons pad gerol kan word. Want ons het ’n opstandingslewe ontvang, ’n lewe waarin ons moet leef vanuit die oortuiging dat alles moontlik is.

Op Opstandingssondag word ons dus geroep om soos die vroue te gaan vertel dit wat ons ontdek het, ja, dat Jesus leef en dat daar daarom altyd vir ons hoop is, want by God is die skynbare onmoontlike, moontlik. Dit is hierdie Hoop in Jesus Christus wat ons na die wêreld moet dra. Dit vra ook van ons om nie maar net die nood van die wêreld te aanskou nie, maar om daadwerklik ’n verskil te maak aan mense se nood en swaarkry. Ons kan nie net arms gevou sit en toekyk nie. Nee, ons moet met ons dade ook getuig dat ons harte gevul is met die hoop van die opstanding. Dat ons glo dat ons ’n verskil kan maak, dat dinge kan verander, omdat my bydra ’n verskil kan maak, maak nie saak hoe klein of min ek dalk dink dit is nie. Ons kan nie toelaat dat die graf van hopeloosheid ons insluk nie, nee, want ons leef met die hoop van die Opstandingssondag. Die steen is weggerol. En aan hierdie nuwe werklikheid moet ons vashou veral wanneer die gebrokenheid van die wêreld ons wil oorweldig.  

Rondom ons, onder ons, tussen ons, leef mense met hulle eie gebrokenheid. As kerk word ons geroep om die lewe wat Christus aan ons in sy opstanding gegee het te gaan deel. Ons hoop is geanker daarin dat ons vergesél word deur die Oorwinnaar, die Opgestane Here. Hy belowe ons ook: “En onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Die Opgestane gee nie net ’n opdrag nie, nee Hy verseker ons dat hy hierdie pad met ons saamloop. En terwyl ons dit doen, dra en versterk die teenwoordige Jesus ons deur sy Woord en deur sy Gees.

As kerk moet ons ’n uitstalvenster wees van die impak van die Opstandingssondag. En hierdie uitstalling moet mense kan sien in die hoopvolle wyse wat ons leef. En die hoop vind gestalte wanneer ons voortgaan om die verskillende gestaltes van die gebrokenheid van die wêreld aan te pak. Of dit nou is deur iemand by te staan wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Of deur geduld aan die dag te lê met die bedelaar by jou voordeur. Of dalk om ’n slaggat voor jou huis op te vul. Of deur saam te stry teen ongeregtigheid. Of net deur met liefde op te tree teenoor mense, juis wanneer die teenoorgestelde verwag word. Mense wat leef vanuit die werklikheid van die opstanding bly altyd stry teen die gebrokenheid van hierdie wêreld, want Jesus se opstanding bevestig dat dinge altyd kan verander maak nie saak hoe hopeloos dit lyk nie. Daarom moet ons voortgaan om om te gee, lief te hê en mense in nood by te staan al sê die wêreld dalk ons mors ons tyd, ons kan tog niks verander nie. Nee, as kerk moet ons deur ons optrede ’n uitstalvenster wees van die hoop van die opstanding, die hoop dat dinge altyd kan verander, want by God is die skynbaar onmoontlike moontlik. Lewe is moontlik waar daar eens dood was.

Vandag op hierdie opstandingssondag word ons weereens herinner daaraan dat ons ’n nuwe era betree het, ’n era waarin ons verlos is van ons sondes en dat die mag van die dood oorwin is. Jesus se opstanding bring ook vir ons hoop in hopelose omstandighede. Dit bring heling vir ons gebroke wêreld. En as kerk word ons geroep om hierdie hoop te verkondig en om mense in hulle nood te bedien met die troos van die evangelie. Die Opstandingssondag moet ons met soveel blydskap vul dat ons nie anders kan as om met vreugde die wêreld in te hardloop om dit vir almal te gaan vertel nie.

Die Here het opgestaan, hy het waarlik opgestaan.

Amen

Stilgebed

Here, die opstanding van U Seun

Het vir ons nuwe lewe en nuwe hoop gegee.

Help ons daarom om as nuwe mense te leef

in die nastrewing van die Christelike ideaal.

Gee ons wysheid om te weet wat ons moet doen,

die wil om dit te wil doen,

die moed om dit te doen,

die deursettingsvermoë om voort te gaan om dit te doen,

en die krag om dit te voltooi.

Amen

Kollekte

Slotlied

421 vers 1, 2 en 3

Seëngroet

Ontvang die Heilige gees en God se seën vir julle opdrag:

“Ek gee vir julle die ewige lewe, en julle sal nooit ooit verlore gaan nie. Niemand sal julle uit my liefdevolle vaderhande ruk nie.”

Amen

Erediens: Goeie Vrydag 2022

Teks: Die sewe kruiswoorde kronologies

Tema: Goeie Vrydag

Voorsang

Lied 334 vers 1, 2, 3 en 4

Votum en seëngroet

God het ons al ons sondes vergewe. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Christus is die lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem.

Amen

Genade, barmhartigheid, liefde en vrede vir julle van God ons Vader wat ons oneindig lief het, Van Jesus Christus ons Here en verlosser en van die Heilige Gees ons trooster.

Amen

Lofsang

U liefdeslied vir my – vers 1, 2 en 3

Gebed

Teks

Ons het hierdie jaar deur die Lydenstyd vir 7 Sondae stilgestaan by Jesus se 7 kruiswoorde. Hierdie laaste woorde van Jesus aan die kruis neem ons eintlik op reis deur sy lyding en sterwe en dit gee vir ons ’n geheelbeeld van dit wat Jesus aan die kruis beleef het en wat dit vir ons elkeen beteken. Daar is sewe kruiswoorde want die getal 7 is die getal van Goddelike afronding en voltooiing. Vanaand op hierdie aand word ons herinner aan ons verlossing wat plaasgevind het en voltooi is aan die kruis. Voordat ons saam aansit by die Nagmaaltafel en die tekens van die brood en die wyn geniet wil ek ons weer deur hierdie reis neem van die sewe kruiswoorde van Jesus, sodat ons met beter begrip saam kan onthou wat aan die kruis gebeur het.

Ek gaan dit vir ons kronologies lees terwyl ek dit ook op die bord gaan vertoon

Lukas 23:33-35

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Hulle het sy klere verdeel deur te loot. 35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

Lukas 23:39-43

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” 40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” 43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Johannes 19:25-27

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” 27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Matteus 27:45-47

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

Johannes 19:28-30

28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” 29Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Lukas 23:45-46

Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

Markus 15:39

Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Woordverkondiging

Die groot kerk hervormer Martin Luther het op ’n stadium vreeslik geworstel met die vraag of dit hoegenaamd moontlik is vir ons om God te kan ken, om iets van sy wese te kan verstaan? Hy het die vraag vir homself so beantwoord: “Ja, maar daar is net één manier om God te ken – alleen deur sy lyding en die kruis.” Dit is by die kruis wat ons God se hart vir die wêreld leer ken. En op hierdie aand wat ons die kruisgebeure herdenk wil ek die fokus plaas juis op die kruis en dit wat Jesus gesê het aan die kruis. Kom ons gaan kyk daarom nou van nader wat Jesus aan die kruis gesê het.

Jesus se eerste kruiswoord was: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Op goeie Vrydag word ons herinner daaraan dat God in Jesus Christus ons vergewe het van ons sondes. Hier aan die kruis hoor ons dat Jesus bid om vergifnis vir die mense wat hom gekruisig het. Vir meeste van ons is vergifnis iets wat moeilik is. Ons vergewe nie mense maklik as hulle ons te na gekom het nie. Ons wil eerder wraak neem. Ons soek vergelding. Ons plaas ’n beperking op vergifnis. Sekere sondes kan ons vergewe maar ons het ’n perk ’n lyn, en wanneer daardie lyn oorgesteek is, dan is jy verby die punt waar ek bereid is om te vergewe. 

Maar Jesus spreek aan die kruis vergifnis uit teenoor almal wat hom te na gekom het. Hy spreek vergifnis uit teenoor die dissipel wat hom verraai het, teenoor ’n vertroueling wat hom verloën hom. Hy vergewe die mense wat hom uitgelewer het om gemartel te word en hom onskuldig tot die dood aan ’n kruis veroordeel het. Hy vergewe die wat hom bespot het, hy vergewe selfs die Romeinse soldate wat hom gegesel het en hom wreedaardig aan ’n kruis vasgespyker. Dis vir hierdie mense wat hy bid: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Hoe anders sou ons nie dalk gereageer het nie. Met hoeveel wraaksugtigheid sou ons harte nie dalk eerder gevul gewees het nie. Wie van ons sou hierdie onreg teen ons kon verduur en die  mense wat daarvoor verantwoordelik was vergewe? Sekerlik niemand van ons nie.

Maar Jesus bid, Vader vergeef hulle. Vergeef die mense wat my verraai, verloën en uitgelewer het. Vergeef die mense wat my gemartel en tot die dood aan ’n kruis veroordeel het. Vergeef die mense wat my verwerp en bespot het. Vergewe hulle wat my onskuldig en onregverdig as ’n misdadiger doodgemaak het. Vader, vergeef hulle.

Hierdie gebed van Jesus se omvang is ook nie net beperk tot die mense wat direk verantwoordelik was vir sy uitlewering en dood aan die kruis nie. Nee, Jesus se kruisdood het ’n universele karakter. Dit sien ons in Paulus se woorde as hy in Kolossense 2:13 en 14 skryf: “God het al ons sondes vergewe. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis vas te spyker, het hy dit vir goed weggeneem.” Wanneer Jesus bid, Vader vergeef hulle, dan is daardie gebed ook vir my en vir jou. Die skuldbewys met die eise teen my en jou is ook aan die kruis vas gespyker en vir goed weggeneem. God handel ook nie met ons opgrond van ons verdienste nie, maar spreek sy genade oor ons elkeen uit. Ek en jy word ook behandel opgrond van God se genade en liefde vir ons. Jesus bid ook vir jou: Vader vergeef hulle. Met Jesus se eerste kruiswoord ontdek ons dat sy vergifnis nie perke het nie.

Dit bring ons by Jesus se tweede kruiswoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Hier sien ons die praktiese gestalte van die eerste kruiswoord. Jesus se vergifnis het nie perke nie, want Jesus vergewe selfs ’n veroordeelde moordenaar. Hy spreek hom vry. Jesus se laaste daad aan die kruis, is ’n reddingsdaad. Hy red ’n misdadiger. So red Jesus elkeen van ons ook van die mag van die sonde. Maak nie saak hoe sondig ons is nie. Maak nie saak wat jy alles al in jou lewe aangevang het nie. Jesus se bloed het vir jou gevloei, hy het aan die kruis gesterf vir jou, vir elkeen van ons sodat ons saam met hom in die paradys kan wees.

Soos die misdadiger aan die kruis verseker Jesus ons ook dat ons saam met hom in die Paradys gaan wees. Hierdie Paradys is om in Jesus gewortel en gegrondves te wees. Dis om ingetrek te word in die koninkryk van God deur die liefde wat ons aan die kruis aanskou het. Paradys is om saam met Jesus te wees in verhouding met hom te leef en dit beteken dat ons nie meer verlore is nie, want in Jesus het ons die koning van ons lewe ontdek. Die koning wat ons vryspreek opgrond van die liefde en genade wat ons sien aan die kruis.

Aan die kruis dink Jesus nie net aan homself nie. Hy dink aan die misdadiger langs hom aan die kruis. Maar hy dink ook aan my en jou. In sy oomblik van nood bied hy verlossing aan. Ek wonder nogal, as ons so oor God begin dink as ’n genadige God en nie ’n veroordelende God, een wat vir Jesus stuur om vir mense te sterf terwyl hulle nog sondaars is en sulke mense deur die kruisdood vrykoop en toegang gee tot die paradys. As ons besef dat God ons roep deur sy Gees om ook so na mekaar te kyk, met genade eerder as oordeel, hoeveel anders sou die wêreld nie wees nie. Met Jesus se tweede kruiswoord wil hy ons herinner om na mekaar te kyk as verlostes en nie sondaars nie.

Jesus se derde kruiswoord is: “Daar is u seun… Daar is jou moeder.”

In hierdie oomblik van nood met die dood wat vir Jesus in die gesig staar, na al die afgryslike dinge wat met Jesus gebeur het, is sy reaksie wanneer hy sy moeder sien, om nie aan homself en sy eie nood te dink nie, maar aan haar en haar nood. Hy vra nie vir simpatie of roep uit om hulp nie, nee, hy vergeet van sy eie nood en sien die nood van Maria raak. Jesus se optrede hier getuig van totale onselfsugtigheid, hy vergeet van sy eie omstandighede en neem die van ander in ag.

Johannes Calvyn het geskryf: “Geen troos is groter as die sekerheid dat jy midde – in jou nood, deur die liefde van God in Jesus omsluit word nie.” Dit is die aangrypende van wat ons in hierdie oomblik aan die kruis moet raaksien. Ja, dat ook ons met sekerheid kan sê dat Jesus in sy liefde vir my en jou, vir ons in ons nood omsluit. Dat hy ten spyte van die nood wat hy aan die kruis beleef, vir ons wys dat hy ’n omgee hart het wat ons nood raaksien.

Deur hierdie optrede van Jesus herinner  hy ons ook daaraan dat ten spyte van moeilike omstandighede, ons steeds ander mense moet raaksien en hulle behoeftes moet in ag neem. Dat ons ’n verantwoordelikheid het om betrokke te bly by mekaar en vir mekaar om te gee, en mense in hulle nood by te staan. Ons eie nood kan nie maak dat ons van ander se nood vergeet nie. Met hierdie derde kruiswoord herinner Jesus ons daaraan dat ons geroep word om ’n verskil te maak aan die nood van ander.

Jesus se vierde kruiswoord is: “My God, my God, waarom het U My verlaat?

Hierdie woorde beskryf die dieptepunt van Jesus se lyding aan die kruis. Hy beleef die effek wat die sonde het. In daardie oomblik beleef Christus die eensaamheid en verlatenheid wat die sonde meebring. Verlatenheid van God. Hierdie eensame en verlate pad wat Jesus gestap het, het hy alleen gestap omdat sy liefde vir ons as mense hom gedring het daartoe. Hy het die pad slegs gekies om vir my en jou te red van Godverlatenheid.

Wat hier gebeur is dat God weier dat die sonde ons verhouding met Hom bepaal. Ja, ons sonde is die faktor wat afstand bring tussen ons en God. Sondes is wat maak dat ons nie ons doel hier op aarde bereik nie. Sonde is die oorsaak dat ons nie in liefde teenoor God en mekaar leef nie, en dit bring afstand tussen ons en God. Jesus kies om hierdie verlatenheid wat die gevolg van sonde is op hom te neem, in ons plek. Toe hy ons sonde op hom geneem het, het hy beleef wat die gevolg is van sonde. Hy het die afstand wat die Sonde tussen ons en God bring in daardie oomblik beleef. Dit is waarom Jesus Godverlatenheid beleef het in die oomblik wat hy die wêreld se sondes op homself geneem het. In daardie oomblik was Jesus totaal en al God verlate. Dit was nie ’n oëverblindery gewees nie. Dit was nie skyn nie. Dit was ’n werklikheid dat Jesus in sy menslikheid Godverlate was.

Daardie belewenis het Jesus beleef sodat die sonde nooit ooit weer die verhouding tussen ons en God sal bepaal nie. Ja, Christus was verlate sodat ons nooit Godverlatenheid mag en kan beleef nie. Want ons behoort aan die Here en niks kan ons skei van sy liefde vir ons nie. Ons mag dalk soms voel asof God ver is maar die werklikheid is die teendeel. God was nog nooit so naby aan ons soos na die kruis nie. God het afgekom. Hy het hier kom leef. En Hy is vandag steeds hier. Hy is naby aan jou. Hierdie vierde kruiswoord van Jesus herinner ons juis daaraan dat Jesus Godverlatenheid beleef het, sodat ek en jy dit nooit self hoef te beleef nie.

Jesus se vyfde kruiswoord is: “Ek is dors.”

Wanneer Jesus hierdie woorde uitroep: “Ek is dors’” plaas dit die fokus op die omvang van die fisiese lyding wat Jesus beleef het. Dit beaam aan ons dat God werklik in Jesus Christus mens geword het en dat Jesus in sy Goddelikheid nie op een of ander wyse die lyding van die kruis ontsnap of vrygespring het nie. Nee, hy het in ons velle ingeklim het. Hy het die seerkry en swaarkry werklik beleef. Daarom het hy ook medelye met ons seerkry en swaarkry.

Ons God is nie net ’n God met mag en gesag nie. Nee, ons God ken en verstaan ons mensheid. Hy weet wat dit beteken om mens te wees. Sodat ons kan weet, hy ken en verstaan ook my en jou pyn. Hy is nie ’n God wat iewers daar vêr is en onbetrokke is nie, wat nie ons omstandighede begryp nie. Nee, in Jesus het God ons wêreld betree. Hy ken ons angs, ons pyne en ons vrese. Hy ken dit, want as mens het hy dit self geleef en beleef.

Jesus se uitroep dat hy dors het, het ook ’n verdere betekenis. Jesus het dit uit geroep om daarmee ook die skrif te vervul, sodat daar geen onduidelikheid sou wees, wie die een is wat dors het nie. Nee, Jesus het dors want hy is niemand anders as die Messias nie, ons verlosser. Die skrif wat vervul word,  is ’n verwysing na die woorde van Psalm 69:22 waar ons lees dat die komende Messias in sy lyding die smart van liggaamlike dors sou ken en dat hulle hom suur wyn sou aanbied.

Johannes vertel vir ons dat die soldate ’n spons vol suur wyn gemaak het en dit op ’n hisoptakkie geplaas het en vir Jesus aangebied het. Die verwysing hier na ’n hisop takkie is ook van belang. Johannes spesifiseer dit onomwonde dat hulle ’n hisoptakkie gebruik het en nie ’n gewone riet of enige iets anders nie. Waarom dit van belang is, is omdat dit nie die eerste keer in die Bybelse verhaal is waar ’n hisoptakkie ’n belangrike rol speel nie. Nee, op die oorspronklike aand waarin God die Paasfees ingestel het met die Israeliete in Egipte toe die eersgeborenes van die Egiptenare gesterf het, maar die Israeliete oorgeslaan is. Het Moses die volk as volg beveel: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen ‘n lam uit en slag die paaslam! Neem ‘n bossie hisop, doop dit in ‘n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.”

Die feit dat die soldate ’n hisoptakkie gebruik om aan Jesus die suur wyn aan te bied, bevestig Jesus se identiteit as die ware paaslam. Die een wat geslag en geoffer word sodat ons oorgeslaan sal word. Deur vir Jesus suur wyn aan te bied met ’n hisop takkie verkondig die soldate eintlik niksvermoedend aan die wêreld: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”  Wanneer Jesus aan die kruis uitroep: “Ek is dors dan bevestig dit aan ons dat hy begrip het vir ons pyn en lyding. Dit herinner ons ook daaraan dat Jesus die perfekte paaslam is wat die sondes van die wêreld wegneem.

Jesus se sesde kruiswoord is: “Dit is volbring.”

Nou die woorde “dit is volbring” word afgelei van die Griekse term Tetelestai wat letterlik voltooi beteken. Die eerste ding wat interessant is van hierdie woord is dat hierdie woord grammatikaal onpersoonlik is, dit word nie aan iemand spesifiek gerig nie. Tot op hierdie stadium het Jesus al sy kruiswoorde aan iemand spesifiek gerig. Maar hierdie kruiswoord rig hy aan niemand spesifiek nie. Die feit dat dit ’n algemene uitspraak is wys vir ons daarop dat die verlossingswerk wat hier voltooi is, nie beperk is net tot ’n spesifieke groep mense nie. Jesus se verlossingswerk sluit almal in. Daarom kan ons met sekerheid vanaand bely dat dit vir my en jou ook insluit.

Hierdie verlossingswerk staan ook vir altyd vas. As Jesus sê, dit is volbring, dan beteken dit dat alles is finaal afgehandel, daar hoef niks daarby toegevoeg te word nie, sy verlossingswerk het ’n impak van daardie eerste oomblik wat dit afgehandel is en daardie impak duur tot in ewigheid. Daarom kan Jesus se verlossingswerk vergelyk word met ’n kunstenaar wat na sy voltooide kunswerk kyk en sê dit is voltooi. Sy voltooide kunswerk is die eindresultaat van dit wat hy tot op die punt gedoen het. Maar die effek van sy werk strek tot in ewigheid vir elkeen wat die kunswerk aanskou. So kan ons ook tot in ewigheid die werk van Christus aan die kruis aanskou en weet dit is voltooi. Sy verlossingswerk is afgehandel.

Jesus se sesde kruiswoord herinner ons daaraan dat die prys reeds betaal is, sy verlossingswerk is afgehandel. Ons kan niks daartoe byvoeg nie en die effek daarvan strek tot in ewigheid.

Jesus se laaste kruiswoord is: “Vader in u hande gee ek my Gees oor.”

Wat aangrypend is van hierdie woorde is dat dit ’n aanhaling is uit Psalm 31:6 wat ’n baie belangrike deel gevorm het van veral Joodse kinders se gebedsrituele. Dit was spesifiek gebruik as ’n aandgebed. Maria sou vir Jesus ook van kleins af geleer het om hierdie gebed te bid in die aand voordat hy sou gaan slaap. En in ’n sekere sin kan ons sê Jesus sterf hier soos ’n kind wat in sy Vader se arms aan die slaap raak. Hy voel geborge, hy is kalm en rustig en in hierdie kalmte roep hy dan die woorde van Psalm 31 uit: “Vader, in u Hande Gee ek my Gees oor.”

Hoe aangrypend is hierdie woorde van Jesus nie. Jesus hang aan die kruis. Hy is gemartel, gespot, verneder en gekruisig. Hy beleef die dieptepunt van menslike ellende en lyding. En dan voordat hy sterf roep hy uit: “Vader in u hande gee ek my Gees oor.” Daarmee plaas Jesus sy vertroue in die Vader. Hy gaan self die dood in en vertrou sy Gees aan die Vader toe, omdat hy glo dat die Vader selfs in die dood met hom sal wees en die oorwinning sal bewerk. Die opstanding kom. Selfs in daardie krisis moment verloor Jesus nie sy vertroue in sy Vader nie. Hy gee alles oor in die hande van Sy getroue Vader. En God is getrou, want op die derde dag wek die Vader vir Jesus op.

Daarom kan ons ook ons tye, jou en my tye toevertrou in God se getroue hande. Ons kan elke nuwe dag en nuwe week aan God toevertrou. Want die hande waarin ons onsself toevertrou. Is dieselfde hande wat die hele hemelruim en elke sterrestelsel gemaak het, wat ons planeet geplaas het as ’n spikkeltjie in hierdie heelal tussen al die miljoene sterre. Wat elke atoom in hierdie wêreld in sy plek geplaas het. Daardie selfde hande wat lewe geskep het. Wat vir Christus uit die dood opgewek het. Dit is daardie selfde hande wat my en jou vashou. Kyk, hieroor kan jy absoluut seker wees: jou lewensloop is in God se hande. Sy hande is in hierdie oomblik om jou. Die hande wat jou van alle kante omsluit, wat jou dra en vashou. Die hande wat roep en sê: Kom na my toe almal wat moeg en oorlaai is. Die hande wat uitgesprei aan ’n kruis vasgespyker is tot versoening van ons almal se sondes. Dit is die hande van God. Die skepper hande, die troue liefdevolle hande die genadige Godshande waarin ons tye en onsself is. In hierdie Godshande is ons veilig. Jesus se laaste kruiswoord herinner ons daaraan dat ons met vrymoedigheid kan uitroep: “Vader in U hande, Gee ek my Gees oor.” Want in God se hande is ons altyd veilig.

Goeie Vrydag herinner ons daaraan dat ons vergifnis ontvang het vir ons sondes, maak nie saak hoe groot ons dink dit is nie. Goeie Vrydag herinner ons daaraan dat ons toegang het tot die paradys, want Christus het gekom om verlore mense te verlos. Goeie Vrydag herinner ons daaraan dat ons in ons eie tye van nood nie van ander se nood moet vergeet nie. Goeie Vrydag herinner ons dat Christus God verlate was sodat ek en jy dit nooit self hoef te beleef nie. Goeie Vrydag herinner ons daaraan dat Christus menslike pyn en lyding beleef het sodat hy bemoeienis kan maak met ons lyding. Goeie Vrydag herinner ons dat die prys vir ons sondes afbetaal is. Ons hoef niks daarby te voeg nie. Goeie Vrydag herinner ons daaraan dat ons op God kan vertrou. Ons is veilig in sy hande. Daarom kan ons ook ons lewens aan hom toevertrou. Goeie Vrydag herinner ons daaraan dat die een wat gesterf het waarlik die seun van God was. Op Goeie Vrydag as ons kyk na die kruis kan ons almal uitroep: “Daar is die lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Daar is die lam van God wat ook my sonde wegneem.

Amen

Nagmaal

Betekenis van die Nagmaal

Vanaand as ons die nagmaal gebruik dan word ons herinner daaraan dat die brood en die wyn, ’n tasbare teken en bewys is daarvan dat God ons slegs opgrond van sy liefde en sy genade vergewe vir ons sondes. Die skuldbewys en die eise van ons sondes teen ons is tot niet gemaak. Die nagmaal herinner ons ook aan Jesus se liefde vir ons wat hy aan ons bewys het deur sy lewe aan die kruis prys te gee. Sy liggaam is vir ons gebreek en sy bloed het vir ons gevloei. Ons eet die brood en drink die wyn sodat ons dit nie sal vergeet nie. Soos Jesus self aan sy Dissipels gesê het: Gebruik hierdie tekens gereeld. Hoekom? Sodat ons nooit sal vergeet wat Jesus vir ons gedoen het nie.

Gebed – Koos du Plessis

Gaan staan onder

Enigeen oorgeslaan?

Instellingswoorde wanneer die brood gebruik word

Wanneer ons die Brood eet, dink ons daaraan dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het, dat sy liggaam vir ons gebreek is, en glo ons dat Hy al ons sondes weggevat het.

Gebruik die brood

Instellingswoorde wanneer die wyn geskink word

Wanneer ons die wyn drink, dink ons daaraan dat Jesus se bloed vir ons aan die kruis gevloei het en glo ons dat Hy daardeur al ons sondes weg gewas het.

Gebruik die wyn

Above all powers – Michael W. Smith

Slotlied

Lied 510 vers 1, 2, 3 en 4

Seëngroet

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met elkeen van julle wees en bly.

Amen